News analysis

Die nuusmedia se toekoms het opgedaag

Herman Wasserman, University of Cape Town

Die aankondiging deur Media24 vandeesweek dat verskeie van sy publikasies gaan sluit, het hewige emosies onder Afrikaanse lesers ontlok. Volksblad en Die Burger Oos-Kaap sal voortaan nie meer op winkelrakke te koop wees of op lesers se voorstoep neerplof nie – hulle sal slegs in digitale formaat beskikbaar wees op Netwerk24. Verskeie ander Afrikaanse titels bly egter heeltemal in die slag: Die Afrikaanse poniekoerant Son op Sondag en Son Oos-Kaap gaan sluit; die gemeenskapskoerante Noordkaap en Kalahari Bulletin word saamgevoeg as ’n enkele publikasie; so ook Kroonnuus en Vrystaat Nuus wat Vrystaat Kroonnuus word.

Die Afrikaanse tydskrif-landskap gaan ook anders daar uitsien. Die frekwensie van maandblaaie soos Sarie, Tuis, Weg! en ander bekende publikasies word verminder tot tweemaandeliks, en die redigering van verskeie van hierdie publikasies word uitgekontrakteer.

Die sterk reaksie van Afrikaanse lesers is waarskynlik gegrond op die hegte band wat hulle oor jare met hierdie titels opgebou het. Die Afrikaanse drukmedia se geskiedenis is nou verweef met Afrikaner-identiteit en ’n etniese nasionalisme – die Vrystaatse dagblad is immers die “volk” se blad; Sarie is ’n “vriendin” vir haar lesers; geslagte lesers het grootgeword met Huisgenoot op die koffietafel in hul ouerhuis.

Dis ook ’n emosionele saak vir ’n Afrikaanse leserspubliek wat al vir jare voel hul taal word bedreig (ten spyte daarvan dat die Afrikaanse middelmootmark in populêre musiek en vermaak skynbaar onstuitbaar is). Nietemin sal Media24 se besluit ’n beduidende impak hê. Meer as 500 mense sal na raming hul werk verloor en ’n groot aantal redaksionele posisies sal slegs op vryskutbasis bly voortbestaan. ’n Vaste salaris in die Afrikaanse joernalistiek gaan in die toekoms klaarblyklik al meer van ’n uitsondering word.

Hoewel dit dus vir baie werknemers ’n tragiese besluit sou wees, en vir baie lesers ’n hartseer een, is die skuif nie verrassend nie. Wêreldwyd was die drukmedia al vir jare in ’n wurggreep. Die migrasie van lesers van gedrukte publikasies na digitale platforms het meegebring dat tradisionele advertensie- en intekenaargebaseerde sakemodelle in duie gestort het – hoewel daar nog nie een duidelike en beproefde suksesresep is om wins uit aanlyn joernalistiek te maak nie.

Die COVID-19-pandemie het hierdie proses skielik versnel en die krisis verdiep. Die advertensie-inkomste van nuuspublikasies – sowel in die druk- as in die uitsaai- en digitale media – het skielik skerp gedaal. Dis nie slegs ’n Suid-Afrikaanse probleem nie: derduisende nuusmediawerknemersin die VSA het vanjaar al hul werk verloor, of hul salarisse is besnoei, en heelwat publikasies moes al hul deure sluit. Daar word voorspel dat die helfte van nuuswerkers dwarsoor Afrika hul werk voor die einde van die jaar kan verloor. Die eerste Suid-Afrikaanse slagoffers was die tydskrifgroep Associated Media Publishing (AMP) wat verlede maand sy deure gesluit het, met die gevolg dat tydskrifte soos Cosmopolitan, House & Leisure, Good Housekeeping en Women on Wheels nie meer sal verskyn nie. Kort op hul hakke was die uitgewer Caxton. Met die sluiting van CTP se tydskrifafdeling het onder meer Rooi Rose in die slag gebly. Dis veral die klein, onafhanklike publikasies wat swaar getref is. Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (SANEF) bereken dat sowat 80 klein drukmediapublikasies reeds moes toemaak, met 700 werksgeleenthede wat verdwyn het. Vryskutjoernaliste het nie aan die slagting ontkom nie – na raming het sowat 60% van vryskutjoernaliste ’n groot proporsie, indien nie alles nie, van hul inkomste verloor.

So erg is die wydverspreide werkverlies dat dit SANEF genoop het om ’n noodfonds op die been te bring met die doel om joernaliste wat hul werk verloor het, by te staan met noodsaaklike uitgawes soos kos en klere.

Die sluiting van drukmediapublikasies moet egter nie misverstaan word as die kwyning van joernalistiek as sodanig nie. Plaaslike navorsing deur SANEF, sowel as internasionale navorsing deur die Reuters-instituut aan die Universiteit van Oxford,  toon ’n skouspelagtige toename in die gebruik van veral digitale nuus rondom die COVID-19-pandemie. Dit blyk duidelik dat te midde van die oorweldigende hoeveelheid inligting, sowel as die groeiende bedreiging van misinformasie (wat reeds as ’n infodemie beskryf is), daar ’n groot behoefte aan betroubare inligting is. Terwyl Suid-Afrikaanse radiostasies ’n toename in luistergetalle bemerk het gedurende die grendeltyd, is daar terselfdertyd ’n reusetoename in die gebruik van nuuswebtuistes (’n 72%-styging in Maart, met ’n 44%-styging in unieke besoekers byvoorbeeld).

’n Ander skynbare ironie rondom Media 24 se sluiting en afskaling van hul drukmedia-afdeling is deur verskeie kommentators aangedui: Dit volg kort op Media24 se moedermaatskappy, Naspers, se jaarverslag waarin daar gerapporteer word dat Bob van Dijk, hoof- uitvoerende beampte van dié konglomeraat, die afgelope jaar R276 miljoen se vergoeding (’n basiese salaris van R23,5 miljoen plus byvoordele) ontvang het. Vir dié kommentators dui dit op misplaaste prioriteite in die maatskappy of op ’n ongevoeligheid jeens die lot van werknemers.

Die moraliteit van die vergoeding van hoof- uitvoerende beamptes is ’n legitieme onderwerp wat waarskynlik in die postpandemie wêreld meer aandag sal geniet nadat die skreiende ongelykhede en onvolhoubaarheid van ongebreidelde kapitalisme deur die virus aan die kaak gestel is. In hierdie geval dui die gaping tussen Van Dijk se reusevergoeding en die skielike werkloosheid van honderde Media24-werknemers egter nie bloot op die inherente ongelykhede van kapitalisme nie. Dit vergestalt in hierdie geval ook die verskuiwing in die maatskappy se prioriteite – en in ’n groot mate, die verskuiwings wat in die mediabedryf oor die algemeen plaasgevind het. Van Dijk staan aan die hoof van ’n reusesakeonderneming waarvan Media24 maar slegs een onderdeel is. Naspers is, ondanks sy ontstaansgeskiedenis as die joernalistieke en literêre onderbou van Afrikanernasionalisme, nie meer primêr op die nuus- en boekbedrywe ingestel nie. Dié konglomeraat sou vandag meer akkuraat as ’n globale tegnologiemaatskappy beskryf kon word met belange regoor die wêreld. Binne hierdie internasionale opset val die klem al meer op e-handel, soos die ontbondeling van die verbruikersinternetgroep Prosus (wat op sowel die Johannesburgse as die Amsterdamse effektebeurse genoteer is) getuig. Die grootste opgewondenheid rondom Prosus (waarvan Naspers ongeveer ’n kwart besit) die afgelope maande was die (mislukte) poging van Prosus in Desember verlede jaar om die kitskosafleweringsdiens Just Eat teen sowat 5,1 miljard Britse pond te koop (die maatskappy besit reeds aandele in soortgelyke afleweringsdienste in Duitsland, Indië en Brasilië). Naspers se verbintenis tot e-handel blyk ook uit sy investering in die plaaslike e-handel-platform Takealot, wat gegroei het tot die grootste van sy soort in Suid-Afrika. Gesien vanuit hierdie maatskappyperspektief, maak dit kommersieel minder sin om te bly belê in die aflewering van papierkoerante op voorstedelike voorstoepe as in die aflewering van verbruikersgoedere.

Anders as kitskos, is die nuusmedia egter natuurlik ’n kommoditeit wat ’n belangrike impak op die gesondheid van ’n demokratiese, ingeligte samelewing het.  Die kommer oor die sluiting van Media24 se publikasies behoort dus oor meer as die nostalgiese verlange na ’n verbygegane era of die kwyning van Afrikaans te gaan. In ’n tyd waarin misinformasie hoogty vier, waar mense op sosiale media al hoe meer hulself onttrek in die knus gemak van filterborrels, omring van ander wat net soos hulle dink, en waar die openbare diskoers dikwels al meer lyk soos ’n modderstoeikryt, is ’n veelstemmige mediasektor uiters belangrik. Vanuit hierdie perspektief sal die vraag dalk anders klink: Tot watter mate dra publikasies by nie slegs tot maatskappywinste nie, maar ook tot die dividende van die demokrasie? Vanuit hierdie oogpunt is dit veral jammer dat soveel kleiner gemeenskapskoerante – die meeste daarvan onafhanklike uitgewers buite die Media24-stal –  reeds hierdie jaar die onderspit gedelf het. Vir baie lesers in plattelandse gemeenskappe of townships spreek hierdie publikasies moontlik veel duideliker tot hul eie ervarings as groot nasionale media of digitale platforms. Dit is hoekom die uitsaaimedia, veral die openbare sender en gemeenskapsradiostasies, so ’n onmisbare deel van ons medialandskap moet bly en waarom die gesondheid van hierdie sektor ook veel meer aandag en besorgdheid moet geniet.

Die digitale omwenteling is onafwendbaar, en geen mate van rou oor die drukmedia van die verlede gaan dié proses keer nie. Daar is reeds vele voorbeelde van hoe digitale platforms gebruik kan word om betroubare nuus te verskaf, verskeie daarvan juis binne die Media24-groep – News24 is byvoorbeeld onlangs bevind as die mees vertroude nuusplatform in die land. Daar is ook verskeie ander voorbeelde van hoëgehalte- digitale nuusplatforms met die potensiaal om spesifieke taal- en kultuurgemeenskappe te bedien (LitNet en Vrye Weekblad), ondersoekende joernalistiek te onderhou (soos Daily Maverick), as ’n nuusagentskap te dien (soos Groundup), of spesialisnuus te verskaf (die platform Bhekisisa doen wonderlike verslaggewing oor die pandemie).

Die omwenteling het egter ook genoodsaak dat alternatiewe befondsingsmodelle ondersoek sal moet word – dit sluit in betaalmure, intekenings of befondsing deur nieregeringsorganisasies, filantropiese stigtings of donateurs.

Sover dit die kommersiële media betref, is die era van gratis internetnuus waarskynlik verby.

Soos die Media24-afleggings toon, het die nuusmedia nie die pandemie se ekonomiese verwoesting vrygespring nie. Die toekoms van die nuusmedia het net vinniger opgedaag as wat moontlik verwag is.

This article is republished from The Conversation under a Creative Commons license. Read the original article.

%d bloggers like this: